Back to Africa Check

Nee, jou lewensversekering is nie ‘null and void’ as jy ’n Covid 19-inenting kry nie

Read this report in English.

“Ek hoop julle is bewus daarvan dat as julle die inenting vat, dan verklaar dit basies jou lewensversekering nul & void. Omdat dit eksperimenteel is,” lui ’n Facebook-inskrywing wat meer as 2,400 keer in Suid-Afrika gedeel is. 

Die inskrywing lyk of dit ’n skermfoto van ’n WhatsApp-boodskap is wat baie keer aangestuur is. ’n Gedeelte van die boodskap is al omtrent 1,700 keer op Facebook gedeel.

Dit waarsku dat die versekeringsmaatskappy nie jou lewensversekering sal uitbetaal as hulle uitvind jy het die inenting gekry nie, selfs al sterf jy in ’n motorongeluk.

“As jy in die versekerings bedryf werk, behoort jy die sommer outomaties te weet,” sê die boodskap.

Africa Check het hierdie virale boodskap ondersoek.

Insurance_False

Wat is lewensversekering?

Lewensversekering is ’n kontrak met ’n versekeringsmaatskappy. In ruil vir ’n maandelikse betaling wat ’n premie genoem word, sal die maatskappy ná jou dood ’n bedrag geld aan jou begunstigdes betaal. 

“Dit verseker dat jou geliefdes genoeg geld het om vir jou ’n ordentlike begrafnis te hou en ander lewenskostes ná jou dood te dek,” sê Nedbank, ’n Suid-Afrikaanse bank en verskaffer van lewensversekering.

Lewensversekeringsmaatskappye mag ’n eis afkeur indien jy nie belangrike inligting oor werk, gesondheid, eiendom of mediese inligting volledig bekend gemaak of opgedateer het nie. 

As die polisvoorwaardes verbreek word of die maandelikse premie nie betaal word nie, kan dit ook veroorsaak dat die eis nie uitbetaal word nie.

Gedragsowerheid vir Finansiële Sektor veroordeel dié bewering

Africa Check het met verteenwoordigers van lewensversekeringsmaatskappye gepraat. Hulle sê dat die Facebook-boodskap vals is.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) reguleer die gedrag van finansiële instansies wat finansiële produkte en dienste lewer. Nadat ons hulle oor die Facebook-boodskap gekontak het, het hulle ’n persverklaring uitgestuur wat sê dat daar geen “meriete of grondslag” vir die bewering is nie.

“Dit is die verwagting van die FSCA dat die Covid 19-inenting nie tot die kansellasie van ’n polis of die verwerping van ’n eis sal lei nie,” sê die verklaring.

Die FSCA “raai polishouers aan om hul onderskeie lewensversekeraars en/of finansiële raadgewers/makelaars te kontak” as hulle enige vrae of bekommernisse het.

Die FSCA sê die “ongegronde stellings veroorsaak vrees, angs, en onsekerheid onder die publiek”. Hulle sê mense moet die Suid-Afrikaanse regering se raad oor die veiligheid van inentings volg.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Suid-Afrikaanse regering bevestig albei dat Covid 19-inentings veilig is. Dit het deur streng toetse gegaan en moes goedkeuring van verskeie reguleerders reg oor die wêreld kry. 

Boodskap is ‘anti-inenting-bangmakery’

Jean-Paul Rudd, ’n prokureur en vennoot by die Suid-Afrikaanse regsfirma Adams & Adams se persoonlike beserings- en versekeringsdepartement, het aan Africa Check gesê dat dit volgens wet nie aanvaarbaar sou wees om te weier om ’n eis uit te betaal oor ’n Covid 19-inenting nie. 

Anna Rosenberg, senior adviseur vir lewens- en risikopolisse by die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika, sê die Facebook-inskrywing is bangmaakstories deur mense wat teen inentings is.

Daar is geen rede vir lewensversekeraars om ’n klousule daarvoor te skep nie, sê sy. “Lewensversekeraars gaan natuurlik baie bly wees [as mense inentings kry]. Hoe meer mense die inenting kry, hoe beter.” 

Dieselfde bewering in VSA en Australië vals bewys

In Mei 2021 het PolitiFact, ’n organisasie wat feite kontroleer, dieselfde bewering vals bewys toe dit op Instagram versprei is. Hulle ondersoek het gevind dat die boodskap in Maart 2021 op sosiale media begin sirkuleer het.

Die Australiese Associated Press beskou dit ook as vals. Hulle het gevind dat dit uit ’n vals aangepaste lewensversekeringspolis kom wat op sosiale media die rondte doen.

For publishers: what to do if your post is rated false

A fact-checker has rated your Facebook or Instagram post as “false”. What should you do? First, don't delete!

Click on our guide for the steps you should follow.

Publishers guide

Africa Check teams up with Facebook

Africa Check is a partner in Facebook’s third-party fact-checking programme to help stop the spread of false information on social media.

The content we rate as “false” will be downgraded on Facebook and Instagram. This means fewer people will see it.

You can also help identify false information on Facebook. This guide explains how.

Add new comment

Restricted HTML

  • Allowed HTML tags: <a href hreflang> <em> <strong> <cite> <blockquote cite> <code> <ul type> <ol start type> <li> <dl> <dt> <dd> <h2 id> <h3 id> <h4 id> <h5 id> <h6 id>
  • Lines and paragraphs break automatically.
  • Web page addresses and email addresses turn into links automatically.
limit: 600 characters